Kriegler ‘kritiseer proses, nie Mogoeng’

Maryna Lamprecht

Oudregter Johann Kriegler, voorsitter van die regsorganisasie Freedom Under Law (FUL), het gister gesê hy het nié pres. Jacob Zuma se besluit om regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter aan te stel gekritiseer nie, maar die aanstellingsproses.

“Dit sou hoogs onbehoorlik gewees het om kommentaar te lewer op die toepaslikheid van Mogoeng as hoofregter.

“Wat ons wel gesê het, is dat die proses wat gevolg is onhandig was en dit die arme man blootgestel het aan ’n skyfskietkompetisie waarin hy die teiken was vir al wat leef om kritiek na hom te werp,” het Kriegler aan Beeld gesê.

Kort nadat Kriegler Mogoeng se aanstellingsproses in FUL se Desember-nuusbrief as ’n “groot bron van verleentheid” bestempel het, het Mogoeng op oudregter Fikile Bam se begrafnisdiens vandeesweek uitgevaar teen oudregters wat sittende regters “voortdurend en met venyn” aanval.

In die nuusbrief, onderteken deur Kriegler, beskryf hy die Regterlike Dienskommissie (RDK) se verhore vir die aanstelling van ’n nuwe hoofregter as “ ’n spektakel”.

“Dis vanweë die proses, omdat die presidensie nie die grondwetlike voorgeskrewe prosedure gevolg het nie. Hulle moes eers geraadpleeg het en dan benoem het, nie andersom nie.

“Dit stel die nominasie bloot aan allerlei kritiek.”

Op Bam se begrafnis het Mogoeng gesê dit is ’n “nuwe, jammerlike neiging van enkele dienende en afgetrede kollegas” om hul kollegas en die regstelsel in die openbaar te kritiseer.

In die nuusbrief spreek Krieg­ler sy kommer uit oor “dis­proporsionele politieke betrokkenheid by die verkiesing van regters”.

“Regerings betreur die sosiale kontrak opgesluit in die skryf van die grondwet en rammel onheilspellend aan oor howe se ‘inmenging in beleidskwessies’.”

Volgens Kriegler het die regering en ANC-woordvoerders die afgelope jaar ’n aantal onrusbarende uitsprake met betrekking tot die regbank gemaak. Hy noem Zuma, adv. Ngoako Ramatlhodi, adjunkminister van justisie, en mnr. Gwede Manta­she, ANC-sekretaris-generaal, by name.

“Op min of meer ’n direkte, dreigende manier word die regbank in dié uitsprake daarvan beskuldig dat hy homself die funksies van die ander twee pilare van die staat wederregtelik toe-eien en in die pad van transformasie staan.”
Kriegler het gister aan Beeld gesê daar is alewig spanning tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag.